saice








SAICE HOME PAGE / ABOUT US
SUB-SECTIONS:
IN A NUTSHELL / IN 'N NEUTEDOP / NATIONAL OFFICE / OFFICE BEARERS / COMMITTEES / BRANCHES / TECHNICAL DIVISIONS / INTERNATIONAL COLLEAGUES / SOUTH AFRICAN COLLEAGUES / SAICE YEAR PLANNER / THE CONSTITUTION / THE BY-LAWS

Suid Afrikaanse Instituut van Siviele Ingenieurswese

In 'n neutedop...

BYNA 100 JAAR OP PAD SAAM MET DIE SIVIELE INGENIEURSPROFESSIE

Die voorganger van die Suid-Afrikaanse Instituut van Siviele Ingenieurswese is in 1903 gestig in die vorm van 'n geleerde vereniging, om tegnologiese ontwikkeling te ondersteun, en om kennis oor eietydse ontwikkeling te versprei.

Ons gee erkenning aan ons stoere pioniers wat vasberade en vervul met inisiatief en innovasie die pad geloop het. Talentvolle mense soos John Brown, die eerste President, en vele ander het die damme, brûe, paaie en alles wat prysenswaardig in Siviele Ingenieurswese is, help skep.

As 'n Instituut erken ons die waarde daarvan om op die verlede voort te bou, maar ook om saam met die tye te groei en sodoende ons professie te ondersteun om 'n waardevolle rol te speel in die Afrika Renaissance.

ONS UITDAGING

President Thabo Mbeki se visie van 'n Afrika Renaissance behels 'n beter lewe vir die mense van Afrika, en dit bied 'n opwindende uitdaging aan al die ontwikkelingsprofessies. Suid-Afrika het nie alleen enorme ontwikkelingspotensiaal nie, maar ook 'n aansienlike behoefte aan volhoubare infrastruktuur.

Die huidige geslag Suid-Afrikaanse Siviele Ingenieurs is, net soos hulle voorgangers, toegespits op die ideaal om verbruikersvriendelike, effektiewe en duursame infrastruktuur te skep. Hierdie infrastruktuur sluit in watervoorsiening, dreinering, vervoer, geboue en al die munisipale dienste wat die grondslag is vir aanvaarbare en verbeterde kwaliteit van lewe en ekonomiese groei.

SAISI se uitdaging is om die leidende rol te speel in die ondersteuning van die professionele praktisyns in Siviele Ingenieurswese wat Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelings-agenda wil verwesenlik.

ONS ROL

Om die katalis te wees vir 'n innoverende aanslag en vir handhawing van die beste praktyke in die ontwikkelingproses.

  • Om netwerke te ontwikkel wat alle sake rakende Siviele Ingenieurswese kan aanspreek.
  • Om 'n professionele tuiste te bied aan almal wat in Siviele Ingenieurswese betrokke is.
  • Om te verseker dat toekomstige geslagte by ons kundigheid sal baat en daarop sal kan voortbou.

ONS AKTIWITEITE

  • Die bevordering van hoë-vlak tegnologie by ons lede.
  • Instandhouding van wêreldklas kwaliteit en standaarde.
  • Aanmoediging van ons lede om hulle vaardighede dermate uit te bou dat hulle wêreldwyd kan meeding.
  • Insette vir besluitnemers en die aanbieding van ontwikkelingsprogramme om besluitnemingsprosesse te vergemaklik.
  • Beroepsleiding om die toekoms van die professie te verseker.
  • Om fondse vir infrastruktuurontwikkeling te identifiseer.
  • Bevordering van etiese benadering en professionele gedrag.

ONS LEDE

Die Instituut is 'n sterk liggaam met ongeveer 8 000 lede wat in die professie en die nywerheid bedrywig is.

Die SAISI lede bestaan uit ingenieurs, tegnoloë, tegnici, raadgewende ingenieurs, kontrakteurs, ingenieurs in diens van die regering, plaaslike owerhede en semi-staatsorganisasies, asook akademici, studente en materiaalvoorsieners. Voorsiening word ook gemaak vir deelnemers wat belangstel in, of 'n verbintenis met die professie het.

ONS TRANSFORMASIE

In die verlede het verskeie regulasies in ons land die volle deelname van mense uit die histories agtergeblewe gemeenskappe in Siviele Ingenieurswese beperk. Uit erkenning vir sosiale geregtigheid en met die besef watter voordele uit diversiteit spruit, het SAISI oor die afgelope twee dekades sy beroepsleiding-veldtog uitgebrei om beide geslagte sowel as alle bevolkingsgroepe te bereik.

Vandag is die transformasie nie alleen in die studentegroep sigbaar nie, maar ook in die nywerheid en in SAISI se organisasie-strukture. Die Transformasie Aksie Forum sowel as Dames in Ingenieurswese is gestig om volgehoue en positiewe vordering op hierdie gebied te verseker.

ONS STRATEGIESE PLAN

SAISI erken die noodsaaklikheid om heeltyd op hoogte van sake te bly deur van moderne, deurlopende strategiese beplanningsbeginsels gebruik te maak om sy doelwitte te bereik en so te verseker dat die organisasie te alle tye relevant bly in al sy aktiwiteite. Ons huidige doelwitte sluit in:

  • Om tegniese leierskap in Siviele Ingenieurswese te bevorder en uit te bou.
  • Om 'n kultuur van lewenslange opleiding en professionele standaarde by lede te kweek deur middel van voortgesette professionele ontwikkeling.
  • Om te streef na groei en deelname, deur potensiële lede te mobiliseer om deel te neem aan ons aktiwiteite. Ons beklemtoon die insluiting van histories agtergeblewe individue as deel van die transformasieproses.
  • Om erkenning en relevansie te verseker deur die professie se bydrae tot Suid-Afrika se groei en ontwikkeling bekend te stel en te demonstreer.
  • Om die organisatoriese transformasie van SAISI te bewerkstellig en ook om 'n leierskapsrol te vervul in die skep van 'n effektiewe netwerkmeganisme vir die professies betrokke by die mensgemaakte en ontwikkelde omgewing.

ONS TAKKE EN TEGNIESE AFDELINGS

Ons twintig Takke is landswyd verspreid en spreek die plaaslike behoeftes van die lede, die professie en die streek aan.

Die nege Tegniese Afdelings se aktiwiteite konsentreer op die onderskeie tegnologie-velde. Hulle beoordeel en ontwikkel praktykskodes, riglyne, spesifikasies en standaarde, en reël ook kursusse en seminare om hierdie kundigheid verder te bevorder.

OM ONS DOELWITTE TE BEREIK, IS SAISI IN DIE VOLGENDE AKTIWITEITE BETROKKE

ONDERSTEUNING VAN SIVIELE INGENIEURSPRAKTISYNS EN AANMOEDIGING OM OP HOOGTE TE BLY VAN HOË-VLAK TEGNOLOGIE

Voortgesette professionele ontwikkeling (VPO): SAISI eenhede ontwikkel en reël lesings, werkswinkels en seminare wat praktisyns help om op hoogte te bly met die ontwikkeling van tegnologie. Die SAISI VPO Geleenthede op ons webwerf bied 'n uitgebreide keuse aan lede om hulle kennis te verbreed.

Vergaderings, terreinbesoeke en sosiale geleenthede: Takke en Afdelings organiseer gereeld geleenthede om kontak tussen lede te bevorder, asook om lede aan huidige praktyk bloot te stel.

Publikasies: Die SAISI tydskrif, Siviele Ingenieurswese, publiseer artikels oor sleutelprojekte, probleme en tendense. Daar word ook berig oor die aktiwiteite van die Instituut, die professie, die regering, die nywerheid, regs- en wetlike aspekte, en nuwe produkte. Op sy beurt bied die Joernaal die geleentheid aan lede om referate te publiseer wat deur kundiges beoordeel is, om sodoende inligting oor intensiewe navorsing en nuwe idees bekend te stel.

Tegniese netwerke: Kongresse, debatte en dinkskrums skep geleenthede om huidige tegniese data en tendense te bespreek en te kommunikeer. Voorbeelde van onlangse aangeleenthede wat die pad vorentoe in hierdie velde beïnvloed, sluit in: omgewingsgerigtheid, geotegniese en hidrologiese ontwikkelings, asook volhoubare ontwikkeling en die huidige prosesse rondom voorsiening van infrastruktuur.

Boekwinkel: In 1997 het SAISI 'n uitgesoekte reeks tegniese boeke vanaf die Verenigde Koninkryk, die VSA en Europese Institute by ons eie publikasies gevoeg. Publikasies uit eie bodem sluit onder andere uitgawes deur die SABS en die WNNR in. Die huidige reeks behels sowat 150 titels.

BEVORDERING EN HANDHAWING VAN WÊRELDKLAS KWALIFIKASIES EN STANDAARDE IN SUID-AFRIKAANSE SIVIELE INGENIEURSWESE

Curricula: SAISI speel 'n belangrike rol in die kwaliteit van Siviele Ingenieurswese-opleiding deur middel van deelname aan die gereelde statutêre akkreditasie van fasiliteite en leergange by tersiêre instellings, wat deur die SA Raad vir Ingenieurswese onderneem word.

Erkenningsooreenkomste: Om ons lede toe te rus vir internasionale mededinging, het SAISI die inisiatief geneem, en werk saam met die SA Raad vir Ingenieurswese, om wedersydse erkenningsooreenkomste te sluit met buitelandse instansies ten opsigte van beide kwalifikasies en professionele status.

Professionele Registrasie: Ingeligte Siviele Ingenieurs is nodig vir kwaliteitoplossings. SAISI het derhalwe die voortou geneem en fasiliteer die internasionaal-erkende ingenieur-in-opleiding programme soos deur die SA Raad vir Ingenieurswese geïmplementeer. SAISI lede met die nodige spesifieke kundigheid hanteer hierdie registrasieproses en tree namens die SA Raad vir Ingenieurswese op as professionele onderhoudvoerders en keurders.

VERSEKERING DAT STANDAARDE, KODES EN RIGLYNE TRED HOU MET DIE BESTE INTERNASIONALE

PRAKTYKE

Navorsing, ontwikkeling en gedragskodes: SAISI se Tegniese Afdelings is by uitstek toegerus om sleutelrolle te vervul in hulle onderskeie velde. Hulle dra derhalwe aansienlik, en in sommige gevalle eksklusief, by tot die navorsing en ondervinding wat nodig is vir die verwerking, uitbreiding en ontwikkeling van siviele ingenieurskodes, spesifikasies, kontrakdokumentasie en ontwerp-riglyne.

Voorkeurverkryging: SAISI het 'n proses begin waarvolgens alle bestaande Suid-Afrikaanse kontrakvoorwaardes hersien word. Die voorgestelde model maak voorsiening vir 'n beperkte stel dokumente wat meer vaartbelynde en ekonomiese tenderprosedures tot gevolg sal hê. Hierdie model sal nie net aan die behoeftes van kliënte voldoen nie, maar behoort ook by te dra tot die ekonomiese bemagtiging van die ontluikende gedeelte van ons bevolking.

LEWERING VAN INSETTE RAKENDE SIVIELE INGENIEURS- AANGELEENTHEDE

Skakeling met kabinetsministers en amptenare van provinsiale en plaaslike regering: Die aantal ingenieurs in diens van die regering het dramaties verminder. SAISI is derhalwe toenemend besig om as fasiliteerder na vore te tree betreffende insette oor siviele ingenieurskwessies wat van strategiese belang is. In dié verband kommunikeer SAISI gereeld met die betrokke ministers. Hierdie kommunikasie behels ook persoonlike besoeke.

Insette rakende wetgewende prosesse: Omdat SAISI die belange van die algemene publiek op die hart dra, lewer die Instituut onbevooroordeelde tegniese en professionele insette op beleids- en wetgewende kwessies. Sedert 1994 het SAISI bydraes gelewer ten opsigte van wetgewing rakende transformasie, onderwys, omgewing, water, afvalbeheer, arbeid, die konstruksiebedryf en professionele registrasie.

Skakeling met suster-organisasies: SAISI volg 'n aktiewe beleid van skakeling met ander tegniese en professionele organisasies met die oog daarop om afsonderlike inisiatiewe te integreer en gemeenskaplike sienings te ontwikkel. Ons streef daarna om hulpbronne ten volle te benut, om beleid uit te bou, en om tendense bekend te stel.

BEVORDERING VAN INGELIGTE BESLUITNEMING MET BETREKKING TOT DIE BELEGGING IN EN BEFONDSING VAN INFRASTRUKTUUR

Bemagtiging van besluitnemers: Die Siviele Ingenieurstigting, wat deur SAISI in die lewe geroep is, was verantwoordelik vir die befondsing en daarstelling van 'n bemagtigingsprogram wat nuwe raadslede van plaaslike regerings toerus om verantwoordelike besluite te kan neem betreffende die ontwikkeling en finansiering van infrastruktuur. Die implikasies van dienslewering en instandhouding word aangespreek tydens interaktiewe werkswinkels. Die loodsaanbiedings wat reeds afgehandel is, het 'n positiewe bydrae gelewer tot die verbetering van verhoudinge tussen die betrokke gemeenskapsleiers, amptenare en lede van die siviele ingenieursprofessie.

Identifikasie van beleggingsmoontlikhede en beskikbare befondsing: SAISI het 'n webbladsy daargestel wat inligting bied oor fondse wat beskikbaar is vanaf nie-regeringsinstansies, banke en die private sektor vir die ontwikkeling van infrastruktuur. Hierdie Find-a-Fund program stel dus ontwikkelaars en finansiers aan mekaar bekend.

BEVORDERING VAN 'N ETIESE EN PROFESSIONELE BENADERING IN DIE SIVIELE INGENIEURSPRAKTYK

Etiese gedragskode: SAISI lede kom 'n etiese kode na waarvolgens standaarde van integriteit en verantwoordelikheid teenoor die publiek, werkgewers en die breë gemeenskap bepaal word, en waarvolgens die veiligheid en gesondheid van die publiek en werkers in alle sfere van Siviele Ingenieurswese bevorder word.

Professionele registrasie: SAISI ondersteun ten volle die noodsaaklikheid van verpligte, hernubare registrasie, asook die nakoming van die professionele gedragskode soos bepaal in die Ingenieurswet.

UITBOUING VAN DIE TOEKOMSTIGE SIVIELE INGENIEURS- PROFESSIE DEUR TE VERSEKER DAT DAAR VOORTDUREND GENOEG UITSTAANDE KANDIDATE BESKIKBAAR SAL WEES

Beroepsleiding: Die geleenthede en beroepe wat Siviele Ingenieurswese bied, word bekendgestel deur middel van plakkate, brosjures en landswye deelname aan loopbaanuitstallings.

Brugbou: Die jaarlikse model-brugboukompetisie tussen skole, wat deur die onderskeie SAISI takke georganiseer word, bied aan skoliere die geleentheid om te eksperimenteer met strukture en sodoende 'n beter begrip van Siviele Ingenieurswese te verkry.

Beurse: Die SPEBS beursskema ondersteun verdienstelike studente met gedeeltelike finansiering vir hulle studies in Siviele Ingenieurswese. Sedert die ontstaan van SPEBS in 1992, is 'n totaal van 135 beurse reeds toegeken aan 87 studente. Hierdie beursskema het bepaald positief bygedra tot die transformasie-inisiatief. Heelwat SPEBS beurshouers het uitstekende resultate behaal, en een van die vyf damestudente wat tot dusver ondersteun is, was ook aangewys as die beste technikonstudent in Suid-Afrika in 1997.

DAARSTELLING VAN UITREIKPROGRAMME AS MANIFESTASIE VAN SAISI SE GEMEENSKAPSBETROKKENHEID

Al ons reeds vermelde bewusmakings-programme word verder uitgebou deur jaarlikse aktiwiteite wat daarop gemik is om Siviele Ingenieurswese voortdurend en positief aan die publiek bekend te stel.

Nasionale toekennings: Onderskeidings in tegniese uitmuntendheid, asook in arbeidsintensiewe doeltreffendheid en betrokkenheid in Suid-Afrika, word deur SAISI bekendgestel tydens 'n jaarlikse uithanggeleentheid, wat tegelykertyd ook ideale blootstelling aan die media bied.

Kalender: Die jaarlikse SAISI kalender beeld Siviele Ingenieursbedrywighede uit en word versprei aan ongeveer 2 000 prominente besluitnemers, asook aan al die SAISI lede.

Pers- en beleidsverklarings: SAISI spreek sake van nasionale belang aan deur pers- en beleidsverklarings en verseker sodoende dat Siviele Ingenieurswese bydra tot die nasionale debat en tot beleidsontwikkeling. Kwessies wat aangespreek word, sluit in: transformasie, ontwikkeling van infrastruktuur, gebrek aan instandhouding van infrastruktuur, tegniese opleiding en omgewingsake.

DIE IDENTIFISERING VAN GELEENTHEDE EN DIE BEKENDSTELLING DAARVAN AAN LEDE

Huur-'n-mentor: Die noodsaaklikheid vir kundige kapasiteit, veral met betrekking tot die evaluering van projekte vir ontwikkeling deur regeringsdepartemente, het SAISI genoop om 'n register op te stel van professionele persone wat beskikbaar is vir tydelike indiensneming op 'n projek-per-projek basis. Sodoende word besluitneming versnel.

Uitvoermoontlikhede: SAISI het onderneem om met 'n aantal ander organisasies saam te werk betreffende die navorsing en identifikasie van oorsese uitvoer- en projekgeleenthede vir sy lede.

Bemiddeling en arbitrasie: SAISI se paneel van kundige lede met gespesialiseerde kennis in verskeie toepassingsvelde kan geraadpleeg word om te help met die oplos van verskillende tipes geskille in die nywerheid.